Nuwe sekswerkers gewaarsku en gehelp
2010-10-04 07:07
Die Burger
Kaapstad - Skriftelike waarskuwings is aan 61 sekswerkers uitgereik wat deur wetstoepassers nuut op die strate van Wynberg en Brooklyn opgemerk is.
In ’n poging om die vroue ’n geleentheid te gee om dié manier van inkomste te heroorweeg, word hulle met die eerste kennismaking met wetstoepassers net gewaarsku en nie sommer net beboet nie.
“Van die vroue kom van die platteland af. Daar word aan hulle gesê hier is werk in Kaapstad. Dan word hulle teen hul wil in huise aangehou, dwelms word vir hulle gegee en hulle word gedwing om sekswerk te doen,” het Nathan Ladegourdie, assistenthoof van die Kaapse stadsraad se aksie-eenheid vir wetstoepassing, Sondag gesê.
Dié eenheid het ’n profiel saamgestel oor elkeen van die 61 nuwe sekswerkers wat in die omgewing van Wynberg en Brooklyn aangetref is.
Van die vroue is uit woonwaens en huise gered waar hulle aangehou is.
Ladegourdie het gesê van die vroue het dwelms in hul besit gehad. Die eenheid help die nuwe sekswerkers wat daartoe instem om na hulporganisasies te gaan waar hulle ondersteun en van die strate afgehaal word.
Dieselfde word gereeld gedoen in gebiede soos Groenpunt, die middestad van Kaapstad, Seepunt en Muizenberg, waar nuwe sekswerkers gewaarsku en gehelp word. Om te verseker dat daar inligting op rekord is van die vroue, word daar ook vir elkeen ’n profiel saamgestel.
“Ons sluit nie net sekswerkers op nie. Ons verduidelik dat hulle beboet kan word. Van hulle begin eintlik huil van verligting, want hulle wil uit die besigheid kom.”
Altesaam 53 van die sekswerkers wat wel gereeld in die strate van Wynberg en Brooklyn klante soek, is boetes van R26 500 in totaal opgelê.
Die eenheid se beheerkamer kan gebel word by 021 596 1999 indien mense hulle wil inlig oor vermeende sekswerkers.
- Die Burger