Nuwe mev. Zuma op pad
2009-12-31 06:39
Dries Liebenberg
Nkandla - Reuse-markiestente vir sowat 5 000 gaste word ’n hanetree van pres. Jacob Zuma se woning hier opgerig vir ’n bruilofsfees wanneer die staatshoof Maandag vir die vyfde keer trou.
Vir inwoners van die Nxamalala-stamgebied, waar Zuma woon en wat volgens Zoeloe-tradisie almal by die fees welkom sal wees, sal dit ’n tweede Nuwejaar wees.
’n Ieder en elk van die omgewing word Maandag by die fees verwag nadat die 67-jarige Zuma met die 37-jarige me. Thobeka Mabhija getrou het.
Inwoners hier het gister deur die bank gesê hulle is baie gelukkig vir Zuma se onthalwe.
Volgens mnr. Richard Zuma, wat nie direk aan die president verwant is nie, het voorbereidings vir die huwelik en bruilofsfees al op 20 Desember begin.
Dit wil voorkom of die huweliksplanne selfs binne die gemeenskap ’n ruk lank dig gehou is voordat inkosi Bhekumuzi Zuma, ’n familielid van Zuma, dit eergister bevestig het.
Benewens die inwoners en krygers van die Zuma-familiegroep word talle BBP’s van oor die land heen by die fees verwag.
’n Jong man wat verkies om anoniem te bly, kan nog die nederige modderhut onthou waarin mev. Kate Zuma gewoon het terwyl haar man in ballingskap was.
Zuma het hom weer tussen die heuwels van Nkandla, waar hy groot geword het, kom vestig nadat hy in 1999 as adjunkpresident aangestel is.
Die netjiese tuiste, bestaande uit verskeie kliprondawels, is sedertdien opgerig.
Mans van die Nxamalala-gebied se reaksie op die komende huwelik was: “Dit wys hy (Zuma) is ’n man.”
Die gebruik om drie of vier vroue te hê is al van die voorvadertye ’n tradisie, het hulle gesê terwyl een skertsend opgemerk het: “Dit is demokrasie!”
- Die Burger