Nuwe korrupsie-waghond hou dop
2012-01-27 09:06
Johannesburg – ’n Korrupsie-waghond wat onafhanklik van die regering is, is Donderdag bekend gestel.
Corruption Watch (CW) is ’n nie-winsgewende organisasie wat deur Cosatu in die lewe geroep is weens noodkrete uit verskeie oorde dat iets aan die buitengewone hoë vlak van korrupsie gedoen moet word.
Verskeie gesiene mense in die burgerlike samelewing is daarby betrokke.
Die uitvoerende direkteur is David Lewis, voorheen voorsitter van die Mededingingstribunaal.
Onder die raadslede van CW is Bobby Godsell, voormalige voorsitter van Eskom, prof. Mary Metcalfe, voormalige LUR vir onderwys in Gauteng, Mavuso Msimang, voormalige direkteur-generaal (DG) van binnelandse sake, regter Kate O’Regan en emeritus aartsbiskop Njongonkulu Ndungane.
CW het ’n webtuiste en SMS-blitslyn waar mense korrupsie anoniem kan aanmeld.
’n Ondersoekspan van minstens vyf opgeleide speurders en regskenners sal die webtuiste en SMS’e monitor, inligting ontleed en sake na die gepaste wetstoepassers verwys.
Rolspelers sal gevra word om kommentaar te lewer en moontlike oplossings te bied.
Organisasies wat geld geskenk het vir CW se stigting was die Millennium-trust, die Oppenheimer-gedenktrust, die Open Society-stigting, die Bertha-stigting en die Raith-stigting.
Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van Cosatu, het by die bekendstelling in Johannesburg gesê korrupsie sal nie uitgeroei word nie solank faksies die regerende party verdeel.
“Faksieverdeling bied ’n perfekte dekmantel vir korrupsie en selfs dié wat met hul hande in die koekblik betrap word, weier om te bedank omdat hulle weens faksies immuniteit en gewaarborgde vrywaring het.”
Vavi het die ANC die skuld vir die reuse-omvang van korrupsie gegee en gesê politici is so besig om hul kamerade te beskerm dat die stryd teen korrupsie, wat die regering jaarliks sowat R30 miljard uit die sak jaag, sleg tweede kom.
Korrupsie versprei soos ’n veldbrand en dreig om Suid-Afrika se toekoms te vernietig.
Vavi het ook uitgevaar teen korrupte staatsamptenare wat hul poste misbruik om hul vriende en familielede te verryk.
“Dit is waarom Cosatu daarop aandring dat mense moet kies of hulle hul sakebelange nastreef of die publiek dien. Hulle kan albei nie terselfdertyd doen nie.”
Daar behoort volgens hom ’n reël te wees wat dié praktyk verbied. Die vakverbond gaan die kwessie in Junie op die ANC se beleidskongres verder voer.
Jeff Radebe, minister van justisie, en adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, het saam met Vavi as gassprekers opgetree.
Moeletsi Mbeki, ’n politieke ontleder en ekonoom, het aan Beeld gesê hy is baie positief oor CW.
Dit verskil volgens hom van ander teenkorrupsie-inisiatiewe omdat dit deur die burgerregte-gemeenskap in die lewe geroep en heeltemal onafhanklik van die regering is.
“Die burgerregtegemeenskap is nie finansieel afhanklik van skenkers of die regering nie, wat beteken hulle kan nie maklik gemanipuleer word nie.”
Cosatu het die laaste paar jaar ’n dure les geleer.
“Hulle het gepleit dat Zuma nie voor die hof gedaag word weens bewerings van korrupsie nie, maar Cosatu het intussen wakker geskrik en besef korrupsie is ’n bedreiging vir sy belange, ongeag wie daarvoor verantwoordelik is,” het Mbeki gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld