Nuwe wapen-inligting 'in De Lille-dossier'
2011-06-22 08:00
Kaapstad - Die sogenaamde “De Lille-dossier” wat 12 jaar gelede aan die Skerpioene oorhandig is, bevat die “nuwe inligting” oor die regering se omstrede wapentransaksie wat verlede week aan die lig gekom het.
Patricia de Lille, OD-leier en burgemeester van Kaapstad, het Dinsdag gesê ’n “hele paar bladsye” in dié dossier toon die verbintenis tussen Saab en BAE Systems.
Hakan Buskhe, uitvoerende hoof van die Sweedse verdedigingsmaatskappy Saab, het verlede week erken omkoopgeld van R24 miljoen is betaal om ’n kontrak te beklink om Gripen-vegvliegtuie aan die Suid-Afrikaanse regering te verkoop.
“Inligting in die De Lille-dossier het reeds tot die suksesvolle vervolging van Tony Yengeni en Schabir Shaik gelei. As hulle al die bewerings ondersoek het, sou dié inligting lankal op die lappe gekom het. Die Valke het meer as genoeg bewyse,” het De Lille gesê.
Sy glo ’n regterlike kommissie moet die transaksie ondersoek.
Altesame 460 bokse inligting oor die wapentransaksie is glo volgens Terry Crawford-Browne, ’n bekende kritikus van die wapenskandaal, deur die Skerpioene aan die Valke oorhandig.
Kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, het gesê die nuwe inligting sal “ontleed” word. Dit is egter voortydig om te sê die ondersoek sal heropen word.
“Ons weet nie eens hoeveel inligting daar is nie en dus ook nie wanneer die ontleding afgehandel sal wees nie.”
Of hulle reeds oor dié inligting beskik soos De Lille sê, sal eers bevestig kan word nadat die inligting van die Sweedse owerhede ontleed is.
Saab ontken enige aandadigheid en het vroeër gesê sy eertydse Britse vennoot, BAE Systems, het die omkoopgeld betaal.
Buskhe het op 16 Junie gesê R24 miljoen is tussen 2003 en 2005 deur BAE aan Sanip Edms. Bpk. betaal.
Dié betalings is volgens hom aan ’n “Suid-Afrikaanse konsultant” in die vorm van “bonusse en salarisse” betaal. Dié betalings het glo sonder die medewete van Saab plaasgevind.
Die geld is glo betaal aan Fana Hlongwane, ’n adviseur van die destydse minister van verdediging, Joe Modise.
Andrew Feinstein, voormalige ANC-LP wat weens die wapenskandaal bedank het, het Dinsdag uit Londen gesê ’n “volle, onafhanklike ondersoek” is nou nodig.
“Die regering en alle rolspelers sowel as die regbank moet betrokke wees. Alle inligting moet beskikbaar gestel word sodat Suid-Afrikaners die gemoedsrus kan hê dat hulle weet wat gebeur het. Alle skuldiges sal vervolg moet word.”
Ook Mosiuoa Lekota, Cope-leier en ’n voormalige minister van verdediging, het geëis dat die ondersoek heropen word.
“’n Deeglike strafregtelike en forensiese ondersoek moet bepaal wie in Suid-Afrika het dié omkoopgeld ontvang.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger