Nuwe gesondheidsplan vol voordele vir SA
2011-09-02 16:12
Durban – Suid-Afrikaners moet die beoogde nasionale gesondheidsversekeringsplan (NGV) sien as ‘n “sosiale mobiliseringsbeleid”, het Malebona Matsoso, die direkteur-generaal van die departement van gesondheid, Vrydag tydens ‘n beraad in Durban gesê.
“Ons moet met nuwe oë na die NGV kyk. Vir my is dit ‘n sosiale beroep op almal van ons om ons sosiale struktuur te verander en te herbou.”
Die NGV is daarop gemik om verbeterde toegang te bied tot kwaliteit gesondheidsdienste aan alle Suid-Afrikaners en dit sal oor 14 jaar ingefaseer word.
“Ons moet oor 50 jaar met trots kan terugkyk na dit wat ons bereik het deurdat universele toegang tot gesondheidsorg in die land te verkry is.”
‘n Gesonder samelewing dra by tot die skepping van beter rykdom, het sy gesê.
“Toe die NGV tussen 1961 en 1975 in Kanada ingestel is, het werkskepping toegeneem en lone het gestyg.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA