'Nuwe feite' kom aan lig oor Ndebele se verblyf
2011-11-10 09:06
Kaapstad – “Nuwe feite” oor S’bu Ndebele, minister van vervoer, se hotelverblyfkostes die afgelope twee jaar wat aansienlik verskil van dié wat ’n herrie rondom sy kop laat losbars het, is Woensdag deur die departement van vervoer uitgereik.
Die departement het gereageer op mediaberigte die afgelope twee weke oor Ndebele se antwoord oor die kwessie aan die parlement.
Luidens die aanvanklike antwoord het Ndebele tussen 1 April 2009 en 31 Julie vanjaar R1,372 miljoen aan hotelverblyf bestee. Volgens dié antwoord, wat deur die minister afgeteken is, het hy in dié tyd 346 nagte in hotelle deurgebring.
Die departement het die antwoord hersien en het gister die volgende uitgereik:
Ndebele het nie 25 nagte in die Johannesburgse Hyatt Regency deurgebring nie en het ook nie R70 000 bestee aan chauffeurdienste nie. Hy was in dié tyd in Kanada by ’n burgerlugvaartkonferensie.
Die minister het nie byna ’n jaar lank in hotelle deurgebring nie, maar het in dié tyd slegs 56 nagte in plaaslike en 102 in buitelandse hotelledeurgebring.
Die bedrag van R1,372 miljoen kan nie aan Ndebele toegeskryf word nie. Hy het in in dié twee jaar R592 768 aan akkommodasie bestee.
Ndebele het gesê alle uitgawes is “volgens die boek” gedoen. “Nietemin verwelkom ons die ondersoek deur die openbare beskermer en die geleentheid om die valse gerugte te korrigeer. Ons sal ons volle samewerking aan die OB gee.”
Die Burger verneem die vorige antwoord het syfers vir ander beamptes van die departement ook ingesluit.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger