Nuwe betaalopsies vir krag
2011-08-05 09:10
Kaapstad – Kapenaars wie se voorafbetaalde krag deur die stadsraad voorsien word, kan uitsien na ’n paar nuwe betaalopsies.
Die stadsraad het vandeesweek aangekondig nuwe diensverskaffers is ná ’n roetine-tenderproses aangestel wat onder meer internet-betalings op een webwerf sal konsolideer.
SMS-betalings kan ook gedoen word en spesiale kragkaartjies en kontantstrokies, soortgelyk aan dié waarmee lugtyd op selfone gelaai kan word, sal ook binnekort beskikbaar gestel word.
Die nuwe reëlings geld al sedert 1 Augustus.
Verbruikers moet daarop let dat die webwerwe www.paycity.co.za, www.energy.co.za en www.ipay.co.za nie meer vir aankope van voorafbetaalde krag gebruik kan word nie.
Al dié betalings is onder www.ibuy.co.za gekonsolideer.
Volgens Hoosain Essop, hoof van verkoopstelsels in die stad se elektrisiteitsdepartement, bedien dié afdeling sowat 487 148 kliënte.
Dieselfde veranderinge geld egter nié vir diegene wat deur Eskom van krag voorsien word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger