'Nuwe Malemas sal kom' – SAIRR
2011-11-10 19:00
Johannesburg – Dit sal ‘n fout wees om te dink die skorsing van Julius Malema, leier van die ANC-Jeugliga, beteken die einde van politieke radikalisme, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) Donderdag gesê.
“Onvermydelik, indien die land nie daarin kan slaag om hoër vlakke van ekonomiese groei te behaal nie, sal nuwe Malemas na vore kom, van binne of buite die ANC,” het Catherine Schulze, woordvoerder, gesê.
“’n Land met Suid-Afrika se ongelykhede sal altyd ‘n broeiplek vir politieke radikalisme wees.”
Die instituut glo die beslissing teen Malema was “ongewoon streng”.
“[Dit] was waarskynlik die enigste meganisme wat die ANC-leierskap beskikbaar gehad het om ‘n halt aan die toename van sy politieke gewildheid te sit,” het sy gesê.
“In die afwesigheid van sulke ystervuis-optrede sou dit vatbaar wees dat mnr. Malema ‘n ontseteling van die huidige senior leierskap van die party sou kon lei, wat weer tot fundamentele beleidsveranderinge vir Suid-Afrika sou kon lei.”
Volgens Schulze was die ANC in die pre-Malema-era te gemaklik en het hulle die toenemende jeugkrisis in die land geïgnoreer.
“Dit is moontlik dat, met mnr. Malema uit die pad uit, die party weer in dieselfde gemaklikheid sal verval.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA