'Nuwe' Caster laat Britte swymel
2009-09-08 08:54
Korrespondent
Londen – Caster Semenya se nuwe glansvoorkoms in ’n Suid-Afrikaanse tydskrif het selfs die Britse media gister laat swymel.
Die Guardian het gister berig oor Semenya se gedaanteverwisseling ná die herrie oor haar geslag.
In die jongste You/Huisgenoot pryk Semenya in ontwerpte rokke, baadjies, ’n romp en selfs ’n stywe leerbroek en hoëhakskoene. Die tydskrif het vier bladsye aan haar afgestaan onder die onderskrif: “Wow, look at Caster now!”
In die meegaande onderhoud kla die 18-jarige dat sy graag meer mooi klere sou wou dra, veral rokke, maar dat sy nooit die geleentheid kry nie. “Ek sou ook wou leer om my eie grimering te doen.”
Universiteitsmaats word aangehaal wat onthul dat sy spykerhakke wil koop en selfs ’n mani- en ’n pedikuur wou beproef. Semenya het gesê: “Ek het nog nooit my eie klere gekoop nie – my ma koop dit vir my. Noudat ek weet hoe ek kan lyk, sou ek meer só wou aantrek.”
Sy het oor die storm oor haar geslag gesê: “Ek sien dit as ’n grap; dit ontstel my geensins. God het my geskape soos ek is en ek aanvaar myself. Ek is wie ek is en is trots op myself.”
- Beeld