Nuwe ANC-lede sal proeftydperk ondergaan
2011-09-07 20:00
Johannesburg – Dié wat hoop om lede van die ANC te word, sal ‘n proeftydperk van agt weke en noukeurige ondervraging moet ondergaan om seker te maak misdadigers word nie gewerf nie.
“Ons werf nie net enigiemand nie. Ons wil nie mense hê wat geweld bring en ons vlae verbrand nie,” het die party se sekretaris in Gauteng, David Makhura, Woensdag aan verslaggewers gesê.
“Ons is nie op soek na getalle nie, maar na die gehalte van lede.”
Dít ondanks die ANC se veldtog om ‘n ledetal van een miljoen te behaal voor die party se honderdste bestaansjaar.
Die vieringe begin op 8 Januarie volgende jaar, met ‘n groot hoeveelheid van die party se internasionale vriende en vennote wat dit na verwagting sal bywoon.
Makhura het gesê die party werf lede op ‘n week-tot-week-basis, maar is “baie versigtig” oor die kies van lede.
Die ANC in Gauteng het 110 000 nuwe lede gewerf vir hul teiken van 300 000 vir 2012.
Verlede Dinsdag het honderde lede van die ANC-Jeugliga Johannesburg se middestad ingevaar en klippe en bakstene na polisiebeamptes en joernaliste geslinger.
Opstokers het ANC-vlae en t-hemde met die gesig van President Jacob Zuma op verbrand. Verskeie mense, insluitende ‘n polisiebeampte, is beseer.
Dít het gebeur tydens ‘n dissiplinêre verhoor van die ANCYL-leier, Julius Malema. Vier ander hoës van die Jeugliga is ook aangekla.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA