Noordwes reg vir eksamens
2009-10-22 12:48
Johannesburg – Die Noordwes departement van onderwys is slaggereed vir die matriek-eindeksamen wat Maandag sal afskop, het die LUR Donderdag gesê.
“Alles is gereed vir die 2009 matriek-eindeksamens in die Noordwes-provinsie,” het Johannes Tselapedi, die LUR vir basiese onderwys in Noordwes, gesê.
Sowat R70 miljoen is begroot vir hierdie jaar se eksamens.
‘n Totaal van 31 441 kandidate vanuit 373 skole regoor die provinsie het ingeskryf vir die eksamen. Dit beteken dat daar teen die einde van die eksamen sowat 414 243 vraestelle sal wees wat gemerk moet word.
Sowat 56 248 leerlinge in Gr. 9 sal die eksterne eksamen (CTA’s) in sowat 557 sentrums skryf. Dit terwyl 5 552 persone die volwasse-onderrig-en-opleidingsprogramme (Abet) in 179 sentrum regoor Noordwes sal aflê.
Die nasionale senior sertifikaat (NSC) se vraestelle is verpak en sal onder polisie-begeleiding afgehaal word en aan die verskillende skole versprei word. Die eksamen sal op 4 Desember tot ‘n einde kom.
Vraestelle het uitgelek:
Drie persone is in Nelspruit in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hulle in besit was van 2009 matriekvraestelle, het die polisie Woensdag gesê.
Die twee matrikulante en ‘n onderwyser het glo die wiskunde-, natuurwetenskappe- en rekeningkunde-vraestelle by hulle gehad, het kapt. Leonard Hltahi, polisiewoordvoerder, gesê.
Jasper Zwane, woordvoerder van die departement van onderwys, het die voorval bevestig.
–Sapa