Noord-Kaap wil met koalisies ANC aanvat
2011-06-12 08:04
Jan-Jan Joubert en Suné Kitshoff
Die Noord-Kaapse leiers van Cope en die DA is oortuig die fondamente word tans gelê om gesamentlik die ANC ’n opstopper soos min in 2014 se algemene verkiesing by die stembus te gee.
Benewens samewerking in ’n hele rits stadsrade gaan die twee partye saam koukus en mekaar teen die ANC ondersteun in die provinsiale wetgewer, het die twee Noord-Kaapse leiers, Andrew Louw (DA) en Chris Wyngaard (Cope), die afgelope week gesê.
Deur samewerking het hulle die ANC uitgeknikker in NamaKhoi (Springbok), Hantam (Calvinia) en Karoo-Hoogland (Fraserburg).
Die Ubuntu-stadsraad in Victoria-Wes is nou gelykop tussen die ANC en die opposisie, maar toe die lot gewerp is, was die geluk aan die ANC-kant en daar is nou ’n ANC-burgemeester.
In De Aar het die onafhanklike stadsraadslid se steun aan die ANC ’n meerderheid besorg, maar in Thembelihle (Hopetown) het ’n twis binne die ANC die weg geopen vir ’n tussenverkiesing in Strydenburg wat die raad na die opposisie kan swaai.
Ook in die Wes-Kaap verloop munisipale samewerking tussen die DA en Cope klopdisselboom, met die uitsondering van Hessequa (Riversdal), waar die lid van Cope die meerderheid aan die ANC gegee het en dissiplinêre optrede binne Cope hom nou in die gesig staar.
Theuns Botha, Wes-Kaapse DA-leier, sê die koalisies met Cope staan op ’n stewiger basis as vroeëre DA-koalisies.
Die DA is hier in drie koalisies met Cope: Bitou (Plettenbergbaai), Langeberg (Robertson) en Witzenberg (Ceres). Voorts regeer die DA saam met die ACDP in Swellendam en saam met ’n onafhanklike in Matzikama (Vredendal).
In vier rade waar die DA volstrekte meerderhede het, is Cope as welwillendheidsgebaar in die bestuur opgeneem: Bergrivier (Velddrif), Theewaterskloof (Caledon), George en die Eden-distriksraad.
Die DA beheer 16 van die 30 Wes-Kaapse stadsrade volstrek, en die ANC een (Beaufort-Wes). Voorts is die ANC in koalisie met uiteenlopende klein partye in beheer van Oudtshoorn, Prins Albert, Cederberg (Citrusdal), Kannaland (Ladismith) en Agulhas (Bredasdorp).
Die koalisie tussen die ANC en die Nasionale Vryheidsparty (NVP) in KwaZulu-Natal werk volgens albei partye meestal besonder goed in die 19 onbesliste rade wat hulle onder die IVP se neus weggeraap het.
Daar is wel uitdagings, het dr. Ma- khosi Khoza, provinsiale ANC-woordvoerder, gesê, maar hulle is die versekering gegee dit word opgelos.
Slegs dae ná die aankondiging van die koalisie was daar onmin toe NFP-raadslede in Umlalazi (Eshowe), Umtshezi (Estcourt) en Imbabazane (Loskop) eerder saam met die IVP as die ANC gestem het. Andile Biyela, NFP-woordvoerder, sê waar verskille nie opgelos kan word nie, sal daar dissiplinêre optrede wees.
Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier, hervat haar voormalige pos as burgemeester van Zoeloeland. Dit was ’n voorvereiste vir die koalisie, het Khoza gesê. Die ANC het 50 burgemeesters in die provinsie se 61 rade.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport