Nooddienswerkers beëindig staking
2011-09-14 21:02
Johannesburg – ‘n Staking deur nooddienswerkers in Johannesburg is Woensdag beëindig nadat ‘n ooreenkoms tussen die stad en die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) bereik is.
“Ek is bly om te kan sê dat alle Noodbestuurdienste (EMS) teruggekeer het na normaal,” het Matshididiso Mfikoe, lid van die burgemeesterskomitee vir openbare veiligheid, gesê.
“Ek wil my waardering uitspreek aan die vele werkers wat aangehou het om hul pligte uit te voer tydens die staking.”
Samwu het Vrydag aangekondig 700 EMS-werkers sou staak oor ontevredenheid met die waarnemende EMS-hoof, Tshepo Makola.
Die werkers het beweer Makola het ‘n oortyd-bonus van R100 000 geëis terwyl hy, as ‘n lid van senior bestuur, nie geregtig is op oortyd-betaling nie. Die eis het neergekom op korrupsie, het Samwu gesê.
Gabu Tgwana, woordvoerder van die Stad Johannesburg, het gesê die ooreenkoms maak voorsiening vir die kwessie om na die nuwe stadsbestuurder, Trevor Fowler, verwys te word.
“Mnr. Makola sal aanbly as waarnemende hoof van EMS-dienste totdat die stad ‘n permanente hoof aangestel het.”
Alle partye het ooreengestem dat die kernkwessies van ‘n “operasionele aard” was en opgelos kon word deur interne kanale, het Tugwana gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA