Nóg twee vermiste kinders dood gevind
2011-11-08 21:07
Johannesburg – Twee vermiste kinders is Dinsdag dood gevind by ‘n plaas in Itsoseng, het die polisie in Noordwes gesê.
Die ontbinde lyke van die negejarige Sebengu Mmopele en die sewejarige Mapule is omstreeks 09:00 gevind, het brig. Thulani Ngubane gesê.
Volgens Ngubane het die polisie vermoed die kinders het hul weg na hul ouma se huis in Itsoseng probeer vind toe hulle gesterf het.
Die polisie vermoed die kinders het weens honger of uitputting gesterf.
Dit is onduidelik hoe die kinders hul weg na Itsoseng, sowat 10 kilometer van hul huis in Verdwaal, gevind het.
Die kinders is vermoedelik deur hul ma verwaarloos, saam met twee ander kinders, onderskeidelik twee en ses jaar oud, wat dood gevind is langs ‘n pad in Lichtenburg in Noordwes op 27 Oktober.
Die ma (27) het na bewering haar vier kinders alleen by die huis in Verdwaal gelaat om haar moeder in Itsoseng te besoek.
Toe sy teruggekeer het, was die kinders nie by die huis nie. Hulle is op 24 Oktober as vermis aangemeld.
“Die ma word van verwaarlosing aangekla, maar sal eers in die hof verskyn nadat sy traumaberading vir haar verlies ontvang het,” het Ngubane gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter