Nóg polisiebeamptes van Cato Manor vas
2012-08-22 20:40
Durban – Twaalf polisiebeamptes, insluitend 10 van Durban se georganiseerde misdaadeenheid wat in Cato Manor gebaseer is, is Woensdag in hegtenis geneem, het die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) gesê.
Volgens Moses Dlamini, woordvoerder vir Opod, is 10 van die mans in KwaZulu-Natal vasgetrek en twee ander in Rustenburg en Pretoria.
Twee van dié wat in hegtenis geneem is, is lede van die nasionale intervensie-eenheid.
Hy sê hulle staan tereg op aanklagte van moord en afpersing.
Altesaam 28 beamptes van die eenheid in Cato Manor is nou in hegtenis geneem.
In Junie is 18 polisiebeamptes op 71 aanklagte in hegtenis geneem, insluitend 14 van moord, 14 vir die onwettige besit van ammunisie, 14 vir die onwettige besit van vuurwapens en vier vir huisbraak.
Dlamini sê die jongste inhegtenisnames bring die Opod se ondersoek in Cato Manor se eenheid tot ‘n einde.
Hy sê die 12 mense wat Woensdag vasgetrek is, sal Vrydag saam met die ander 18 in die Durban-streekshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA