Nóg oor ET-hofsaak
2010-04-14 19:21
Ventersdorp - Puna Moroko, prokureur van die 28-jarige beskuldige in die Eugene Terre’Blanche-moordsaak, het Woensdag aan verslaggewers buite die hof gesê dat dit goed gaan met sy kliënt.
“Hy is glad nie senuweeagtig nie. Nee, ons het ook geen doodsdreigemente of intimiderende boodskappe ontvang nie. My kliënt het nie ‘n selfoon in die tronk nie en ek het nog net boodskappe van ondersteuning ontvang,” het Moroko gesê. Hy wou egter nie uitbrei oor wie die mense is wat sy kliënt ondersteun nie.
Volgens hom is hy Paasmaandag deur “goeie samaritane” gekontak wat hom gevra het om Chris Mahlangu (28) te verteenwoordig. Sedertdien het die Black Lawyers Association (BLA) ook gesê dat hulle Moroko sal ondersteun.
Moroko was daarvan oortuig dat sy kliënt borgtog toegestaan sal word en ook dat Mahlangu onskuldig bevind sal word vir die moord op Terre’Blanche.
“Alhoewel Mahlangu en sy medepligtige, ‘n 15-jarige seun, oor die telefoon aan die polisie gesê het dat hulle Terre’Blanche vermoor het, tel dit nie as ‘n erkenning van skuld nie,” het Moroko gesê.
Mahlangu het met groot oë die hofverrigtinge dopgehou Woensdagoggend, terwyl Terre’Blanche se familielede hom aangegluur het vanuit die voorste ry van die publieke galery.
Sy borgaansoek is uitgestel tot 10 Mei as gevolg van onsekerheid oor waar hy sal bly as hy borgtog ontvang.
Moroko het weereens bevestig dat daar ‘n dispuut oor lone was.
- Sapa