Nóg ondersoeke oor padwaardigheid van bus
2012-07-05 21:55
Johannesburg – Bewerings dat iemand veranderinge aan die padwaardigheid-sertifikaat van ‘n Putco-bus gemaak het wat verlede week in ‘n ongeluk was, sal ondersoek word, het die padverkeersbestuurskorporasie Donderdag gesê.
“Dit gaan deel uitmaak van die ondersoek,” het Ashref Ismail, ‘n woordvoerder van die korporasie, gesê. Die korporasie ondersoek die ongeluk wat op 25 Junie plaasgevind het waarin 19 mense, insluitende die busbestuurder, dood is.
Vyf-en-vyftig mense is beseer. Een van die beseerdes is Dinsdag dood.
The Star Africa Edition het Donderdag berig daar is twee teenstrydige briewe wat glo van die Midvaal-munisipaliteit is rakende die padwaardigheid van die bus.
Die munisipaliteit erken hy het ‘n tweede brief geskryf waarin die bus padwaardig verklaar is ná die ongeluk, het die koerant berig. Die eerste dokument, wat 14 Junie gedateer is, het getoon bus nommer 7167C het ‘n “hertoets gedop” en is gestuur vir nog ‘n toets op 21 Junie.
‘n Tweede brief, wat ook 14 Junie gedateer is, is ná die ongeluk geskryf en sê die bus het die toets geslaag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA