Nóg 'n storm tref Klerksdorp
2009-10-01 09:27
Nicolize van der Walt
Klerksdorp. – Dié stad het vir die tweede keer vanjaar onder geweldige donderstorms deurgeloop wat miljoene rande se skade aangerig het.
Dakke is binne minder as ’n uur afgeruk, afdakke verfrommel, huise oorstroom en tuine verwoes in ’n hewige haelstorm eergister laatmiddag.
Groot dele het soos ’n sneeulandskap gelyk waar hael plek-plek tot 20cm diep gelê het. Van die stad se noordelike voorstede was ’n ruk lank sonder krag en die N12-hoofweg ’n tyd lank gesluit nadat boomtakke en haelkorrels die pad vol gelê het.
Die grootste skade is in La Hoff, Doringkruin, Wilkoppies, Flamwood, die middestad, uitbreiding 10 van Jouberton (naby Klerksdorp) en uitbreiding 8 van Kanana (naby Ork-ney) aangerig.
“Drie hospitale – die Klerksdorpse provinsiale hospitaal, die Tshepong-hospitaal in Jouberton en die Sunningdale-hospitaal in Wilkoppies het waterskade opgedoen, maar die pa-siënte is nie uitgeneem nie,” het supt. Lesego Metsi, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê.
Niemand is volgens Metsi tydens die storm beseer of dood nie.
“Die reën was nie so erg soos die hael nie,” het mnr. Tommy Deysel van die Matlosana-munisipaliteit se afdeling vir rampbestuur gesê.
“Mense is wel verontrief, maar dit was beslis nog nie ’n ramp nie. Ons monitor die situasie deurentyd.
“Mense moet skade by hul wyksraadslid of wykskomiteelede aanmeld waarna ek ’n volledige verslag aan die munisipaliteit sal gee.’’
Beeld het die storm se verwoestingspoor gevolg. By Autorama, ’n gebruiktemotorhandelaar, het die dak ineengestort en twee voertuie is lig beskadig. Mr Price en Mr Price Home naby die Pick n Pay-hipermark het erge waterskade gely, maar gister soos gewoonlik sake gedoen.
Plek-plek in die Wilkoppies-omgewing is kennisgewings op winkeldeure geplak om klante in te lig die winkels is weens stormskade gesluit.
Klerksdorp en omgewing het in Januarie onder hewige storms deurgeloop. Dele van die Kosh-gebied (Klerksdorp, Orkney, Stilfontein en Hartbeesfontein) is toe tot rampgebied verklaar.
- Beeld