Nóg ’n ras-skok vir bruines
2011-04-16 07:19
Pretoria - Die kwessie oor die oorwig van bruin mense in poste in die Wes-Kaap het ook in die weermag opspraak gemaak met die bruin soldate by 9 SA Infanteriebataljon (9 SAI) in Kaapstad wat ontstoke is oor uitlatings wat ’n senior offisier hieroor gemaak het.
Beskuldigings vlieg heen en weer oor die bevelvoerder by die eenheid, lt.kol. Martin Feni, se uitlatings teenoor sy oorwegend bruin middelvlakbestuur.
Die bruin soldate beweer hy het geïmpliseer dat hulle ander werk moet kry omdat hy die eenheid glo gaan transformeer ingevolge die nasionale demografie. Hulle beweer hy het ook gesê hy is nie ’n Suid-Afrikaanse Kleurlingkorpsbevelvoerder nie. Die meeste van die bruin soldate in die eenheid was in die ou bedeling lid van dié korps wat in die aanloop tot 1994 ontbind is.
Die infanterieformasie het vandeesweek in reaksie ontken dat Feni só iets gesê het. Hy het wel gesê die demografie van die eenheid is “verkeerd” omdat dit minstens 64% swart, 24% wit, 11% bruin en 1% Indiër-soldate moet reflekteer.
’n Fel openbare debat het ’n paar maande gelede uitgebreek oor beplande veranderings aan die Wet op Billike Indiensneming, wat verreikende gevolge sou hê as die nasionale demografie in streke soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal afgedwing word.
Volgens die infanterieformasie was die geleentheid by 9 SAI waartydens die beweerde gewraakte stellings gemaak is, ’n loopbaanbespreking wat nie net op die bruin soldate gerig was nie. Dit was ’n bespreking wat oor “toekomstige aanwending en bemagtigingsprogramme” gehandel het.
Op bewerings dat daar voorkeur gegee word om swart mense van buite in die eenheid aan te stel eerder as om dit te vul met die oortollige bruin soldate binne die eenheid, het die formasie erken dit gebeur. Genl.maj. Themba Nkabinde, bevelvoerder van die formasie, sê egter “demografiese oorwegings” word by aanstellings in ag geneem. Hy het ontken Feni stel van sy vriende só aan.
’n Stafsersant by 9 SAI het kort voor die WB 2010-sokkertoernooi verlede jaar ’n grief aanhangig gemaak nadat hy uit sy pos verwyder en vervang is deur iemand wat deur Feni aangestel is.
Sodoende het hy duisende rande se ekstra toelaes verbeur. In sy grief maak hy beswaar teen Feni se beweerde rassistiese uitlatings (dat hy nie ’n bevelvoerder van bruines is nie).
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger