Nóg ‘n gevangene sterf ná brand
2011-11-03 21:00
Johannesburg – Nóg ‘n Krugersdorp-gevangene het gesterf nadat hy en mede-gevangenes ‘n brand in hul sel gestig het, het beamptes van die gevangenis gesê.
Tsholo Moreki (20) het Woensdagaand in die Leratong-hospitaal gesterf, het Sibongile Khumalo, woordvoerder van korrektiewe dienste, gesê.
Moreki is Vrydag in die hospitaal opgeneem saam met sy selmaats Avumile Nonkwelo (21) en Shadrack Takalo (18).
Nonkwelo is Saterdag dood, terwyl Takalo nog by dieselfde hospitaal herstel.
Volgens Khumalo het die drie Vrydag hul sel met ‘n staalbed afgesper en hul matrasse aan die brand gesteek.
Hulle was verhoorafwagtend op aanklagte wat huisbraak, aanranding, verkragting en moord ingesluit het.
“Die motief vir hul optrede is nie duidelik nie en die kwessie word intern ondersoek,” het Khumalo gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA