Nóg 'n baba sterf glo in hospitaal
2010-05-20 12:45
Johannesburg – ‘n Span van die departement van gesondheid in Gauteng is na die Natalspruit-hospitaal gestuur nadat ‘n drie maande oue baba glo gesterf het.
Na bewering het die baba in sy ma se arms gesterf terwyl hulle by die hospitaal in ‘n ry gestaan en wag het.
“’n Span is vroegoggend na die hospitaal gestuur om ondersoek in te stel en te bepaal of die gerugte waar is,” het Simon Zwane, woordvoerder, gesê.
“Ons het berigte oor die voorval op die radio gehoor en dadelik ‘n ondersoekspan uitgestuur om presies te bepaal wat gebeur het. Die dokters se notas sal met die moeder se bewerings vergelyk word,” het Zwane gesê.
Baba Moosa Jacob se ma, Mhiki, het hom glo Woensdagoggend na die hospitaal geneem. Sy het aan Talk Radio 702 gesê dat die kind sedert Maandag simptome van diarree getoon het. Sy het die kind glo reeds twee keer na die hospitaal gebring voordat hy Woensdag gesterf het.
Na bewering het ‘n dokter Maandagaand vir die kind medikasie voorgeskryf.
Die ouers beweer dat hulle Dinsdagaand na die hospitaal teruggekeer het en dat hulle sowat drie ure moes wag vir iemand om hulle te help.
“Hulle het nie eers my baba ondersoek nie. Hulle het net vir my Panado gegee,” het sy gesê.
Die seun se pa, Yusuf, meen sy kind kon nou nog gelewe het as die mediese personeel net hulle werk gedoen het.
Intussen is sowat 35 babas na ‘n nuwe saal geskuif in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg nadat sowat ses babas weens diarree gesterf het.
Dit kom nadat die hospitaal erken het dat die saal oorvol was. Daar was sowat 50 babas in die saal gewees. Dit is sowat 15 meer as wat toegelaat moet word.
Die departement kon nie berigte bevestig wat daarop dui dat nog sowat 20 kinders gesterf het nie. “Dit is net hoorsê.”
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.