Nóg 'n aanklag teen Malema ingedien
2012-09-12 14:42
Johannesburg – Solidariteit het nog ‘n aanklag van aanhitsing tot geweld teen Julius Malema aanhangig gemaak.
Die vakbond sê hy het die klag ingedien nadat die geskorste leier van die ANC se jeugliga na bewering verdere onrus onder stakende mynwerkers veroorsaak het.
Johan Kruger, ‘n woordvoerder vir die vakbond, sê die nuutste aanklag kom nadat die omstrede politikus mynwerkers by Goldfields se myn naby Carletonville toegespreek het.
Malema het ‘n beroep op die mynwerkers gedoen om ‘n landswye staking te hou.
Die omstrede leier is tans besig om soldate in Lenasia toe te spreek.
Sowat 300 soldate het vroeër die dag in gewone klere buite die Lenasia-ontspanningsentrum bymekaar gekom en gesing en gedans terwyl hulle vir Malema gewag het.
Een van die soldate, Shakes Mogediri, sê die groep wil hê Malema moet hulle help om hul poste by die Suid-Afrikaanse nasionale verdedigingsmag terug te kry.
“Ons is almal sedert Augustus 2009 op spesiale verlof; omtrent 1 100 van ons. Niemand het eens vir ons gesê hoekom ons op spesiale verlof geplaas is nie,” het hy gesê.
“Al wat ons wil hê is dat Malema ons help om terug werk toe te gaan. Ons het drie jaar lank geen geld gehad nie. Ek het ‘n vrou en kinders om na om te sien.”
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het vroeër in ‘n onderhoud met die SABC se radionuus gesê dit lyk asof Malema vasbeslote is om soldate teen die staat te draai.
“’n Mens kan nie net aan en aan en aan gaan... en mense aanhits om onregeerbaar te raak nie,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA