Nóg ‘n aanklag kom teen Malema
2011-04-14 23:00
Johannesburg – ‘n Addisionele haatspraak-aanklag sal teen die president van die ANC-jeugliga (ANCYL), Julius Malema, aanhangig gemaak word.
Volgens AfriForum sal daar ook ‘n aanklag teen die ANCYL se woordvoerder, Floyd Shivambu, gemaak word.
“AfriForum het besluit om hierdie stap te neem nadat Malema sy ondersteuners aangemoedig het om die omstrede ‘Skiet die boer’-lied buite die hof te sing,” het Ernst Roets, AfriForum-jeug se nasionale voorsitter, in ‘n verklaring bekend gemaak.
“Shivambu het die lied ook Donderdagmiddag buite die hof gesing voor ‘n skare van ANCYL-ondersteuners.”
Dié aanklagte sal Vrydagoggend in die hooggeregshof ingedien word.
“As die jeugliga werklik vreedsaamheid in Suid-Afrika wou aanmoedig, sou hulle nie hulle ondersteuners aangehits het nie,” het Roets gesê.
Volgens Shivambu het hulle glad nie ‘n lied gesing wat die woord ‘boer’ bevat nie.
“Jy kan die beeldmateriaal kyk, ons het nie eenkeer die woord ‘boer’ genoem nie,” het Shivambu gesê.
“Hulle is laf. As hulle (AfriForum) bereid is om hul geld en tyd te mors is hulle welkom.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA