Omstrede minister die deur gewys
2013-02-28 08:44
Johannesburg – Lulu Xingwana, die omstrede minister van vroue, kinders en gestremdes, en haar hele afvaardiging is Woensdag die deur gewys in die parlement in Kaapstad, het Beeld berig.
Xingwana se departement is in Desember uitstel gegun om terug te rapporteer oor 'n omkeerstrategie, maar die dokumente wat LP's veronderstel was om te ontvang ter voorbereiding vir die sessie, is eers Dinsdagaand afgelewer.
Boonop was die verslag 'n deurmekaarspul, het baie LP's gesê.
Liezel van der Merwe, IVP-LP, het gesê: “Die dokumente is so deurmekaar ek weet nie of ek kom of gaan nie.”
LP's is volgens parlementêre reëls veronderstel om sulke dokumente minstens 48 uur voor 'n sessie te ontvang sodat hulle die nodige vrae kan voorberei en ingeligte besluite kan neem.
Die DA het ook gevra dat haar departement opgeskort en sy die trekpas moet kry.
Ontstoke LP's, baie van hulle ANC-lede, het Xingwana en haar afvaardiging teruggestuur om hul brouwerk reg te stel.
Xingwana het namens haar departement om verskoning gevra, en gevra of sy 'n voorlopige verslag kan indien.
"Hierdie is onaanvaarbaar, maar die departement het so hard gewerk."
Die DA het egter na 'n uur se gekibbel uit die vergadering gestap.
Helen Lamoela, DA-LP, het gevra dat die departement opgeskort word, want sy begroting kan beter aangewend word. Die departement het R198,3 miljoen in die boekjaar 2013-’14 gekry.
Die departement het in sy kort bestaan meer as ’n half miljard rand ontvang en “daar is niks om daarvoor te wys nie, buiten uitspattige partytjies, buitelandse reise en ontwerpersmeubels”.
“Geld wat die departement ontvang het, is vermors en nou gaan dit selfs meer geld kos om dit weer op die been te bring,” het Lamoela volgens die publikasie gesê.
Intussen het die minister ook om verskoning gevra vir haar uitlatings oor Afrikaner-mans, wat dié week 'n hewige reaksie ontlok het.
"Dit het vir my duidelik geword dat my kommentaar sommige lede van ons gemeenskap ontstel het.
"Ek wil, gevolglik, daardie kommentaar terugtrek en onvoorwaardelik om verskoning vra aan hulle," het sy gesê.
Dié verskoning volg ná Xingwana aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) gesê het jong Afrikanermans word grootgemaak om te glo dat hulle vroue en kinders "besit".
"Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit," het sy gesê.
"Ons het ook kulturele verskille in ons eie gemeenskappe waar ons vroue het wat gedwing word om te trou en ons hanteer al daardie sake."
ABC het 'n onderhoud met Xingwana gevoer oor die dood van die Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius se meisie, Reeva Steenkamp.
Die insetsel, wat Maandag uitgesaai is, fokus op vuurwapengeweld in Suid-Afrika.
"Ek sal hom vra om die waarheid te praat. Ek sal hom vra om vroue te respekteer," het Xingwana gesê.
"Ek sal hom vra om ontslae te raak van sy vuurwapens. Want ek glo as hy nie vuurwapens in sy huis gehad het nie, sou Reeva Steenkamp vandag gelewe het."
Xingwana se uitlatings is skerp gekritiseer.
"Hierdie minister het bo enige twyfel bewys dat sy nie geskik is om 'n amp te hê in 'n konstitusionele demokrasie nie," het Jan Bosman, sekretaris van die Afrikanerbond, in 'n verklaring aangevoer.
Ook AfriForum het Dinsdag gesê hy oorweeg dit om 'n klagte teen Xingwana by die gelykheidshof te lê oor haar uitlatings.
Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, het gesê die kommissie het drie klagtes van mense ontvang wat meen Xingwana se woorde is rassisties en diskriminerend. Die MRK ondersoek die klagtes.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA