Nóg klagte kan kom oor 'molestering' by kleuterskool
2011-10-11 08:11
Kaapstad – Minstens nog vier ouerpare beoog om klagte oor voorvalle van beweerde seksuele molestering by ’n kleuterskool op Melkbosstrand by die polisie in te dien.
Die polisie ondersoek tans vyf klagte wat oor voorvalle by dié kleuterskool ingedien is.
Die vyf voorvalle het na bewering almal in Maart en April by die kleuterskool Babbel en Krabbel plaasgevind.
Vincent Bergh, ’n prokureur wat die ouerpare van drie van die kinders verteenwoordig, het aan Die Burger gesê hy sal deur die loop van die week vergader met die ouers wat nou vorendag gekom het.
Hy het gesê die ouers het gesê hulle wil doodseker maak of daar inderdaad met hulle kinders “gepeuter” is. Hulle gaan nou seker maak dat die kinders vir berading gaan en ook dat verklarings afgeneem word.
’n Woordvoerder van die direktoraat van openbare vervolging (DOV), Eric Ntabazalila, het Maandag gesê vier van die dossiere wat na die DOV verwys is, is vir verdere ondersoek na die polisie teruggestuur.
Hy het gesê die DOV is ná ’n laaste vergadering met die ouers ingelig dat daar nog ouers is wat klagte wil indien.
Hy kon egter nie sê of daar enige nuwe klagte ingedien is nie.
’n Polisiewoordvoerder, lt.kol. André Traut, het gesê die hele aangeleentheid rondom die beweerde voorvalle van seksuele molestering by die kleuterskool word ondersoek.
Hy het gesê die polisie is huiwerig om in hierdie stadium te veel inligting bekend te maak, omdat dit die ondersoek kan belemmer
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger