Nóg karkasse van renosters op wildplase gekry
2011-07-27 07:58
Polokwane - Die karkasse van twee witrenosters en ’n swartrenoster is op verskillende wildplase buite Hoedspruit in Limpopo gekry.
Patrick Jordan, ’n prokureur van Hoedspruit, het gesê daar word vermoed die renosters is die afgelope twee weke doodgemaak.
Volgens hom is die swartrenoster in die maag geskiet. Dit lyk of hy weggehardloop het voordat sy horing afgekap kon word. Die dier is later dood.
Jordan wou nie sê waar dié renoster doodgemaak is nie, omdat hy bang is stropers slaan weer daar toe.
Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die swartrenosterbul se karkas is Saterdag op Nyathi Pools Game Farm buite Hoedspruit gevind. ’n Koeël is in die karkas gevind.
’n Witrenosterbul se karkas is Dinsdagoggend op die plaas Madrid gekry. Die polisie vermoed die bul is al sowat twee weke dood. Sy horing is verwyder.
Otto kon nie die voorval bevestig waarin ’n derde witrenoster glo doodgemaak is nie.
Volgens Jordan is private renostereienaars raadop omdat stropers hul plase blykbaar nou teiken sedert die weermag in die Krugerwildtuin ontplooi is in die stryd teen renosterstropery.
Die wildtuin het verlede week aangekondig nog nie ’n enkele renoster is vandeesmaand daar doodgemaak nie.
Jordan het gesê private eienaars oorweeg dit om hul renosters te onthoring om stropery te voorkom. Renostereienaars bekyk ook maniere om hul renosters se bewegings dop te hou. Hulle sal dan vinniger kan reageer as hulle geweerskote hoor.
Yvonne Gioia van die luukse private natuurreservaat Elandela buite Hoedspruit het gesê private eienaars is moedeloos oor die stropery in die gebied. “Dit is goed en wel dat die stropers nie meer in die wildtuin toeslaan nie, maar nou kom hulle na ons private reservate toe.”
’n Renosterkoei is onlangs ook in dié natuurreservaat doodgemaak.
Haar twee maande oue kalf, Roccy, is erg deur die stropers geslaan. Hy is sedertdien blind.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger