Nóg inspekteurs vas vir bedrog
2009-12-17 13:10
Johannesburg - Nóg twee voertuig-inspekteurs is Donderdag deur die polisie in Mpumalanga in hegtenis geneem.
Kapt. Leonard Hlathi het gesê die inspekteurs, onderskeidelik 33 en 40 jaar oud, is omstreeks 09:00 by die
Steve Tshwete plaaslike munisipaliteit se toetsgronde in hegtenis geneem.
“Die verdagtes was betrokke by die uitreiking van onregmatige bestuurslisensies,” het Hlathi gesê.
"Ons het, ironies genoeg, gevind dat die 40-jarige verdagte ’n kode A lisensie, amptelik bekend as Kode 2 én ‘n EC lisensie, amptelik bekend as Kode 14 aan die 33-jarige verdagte uitgereik. En albei werk nou as inspekteurs by dieselfde munisipaliteit,” het hy gesê.
Die 40-jarige het glo ook die dokumentasie vir registrasienommers van ’n sekere vragmotor en ’n motorfiets in dokumentasie, wat bedoel is vir lisensies, ingevul.
"Ons het met beide die eienaars gepraat en hulle het ontken dat hulle ooit hul voertuie aan die verdagte uitgeleen het,” het Hlathi gesê.
"Ons beweer dat die verdagte nooit sy kollega getoets het nie en dat geen korrekte prosedures gevolg is vir die uitreiking van die lisensies nie.”
Beide sal na verwagting Vrydag in Middelburg se landdroshof op aanklagte van bedrog verskyn.
Die voorval bring die totale inhegtenisneming van amptenare by dieselfde munisipaliteit tot sewe.
“Ons doen ’n beroep op alle inspekteurs om eerlik in hul werk te wees.”
-Sapa