Nog geen datum vir verkiesing
2011-02-03 17:00
Kaapstad – Daar is steeds geen aanduiding van wanneer die plaaslike regeringsverkiesing sal plaasvind nie.
Die minister in die presidensie, Collins Chabane het die media in Pretoria toegespreek na die week se kabinetsvergadering.
Chabane sê die kwessie van die plaaslike regeringsverkiesing is nie bespreek nie. Hy sê die minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, Sicelo Shiceka is nog besig met raadpleging in dié verband.
Chabane sê die kabinet het intussen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om gebruik te maak van hierdie naweek se registrasieveldtog om op die kiesersrol geplaas te word.
Die kabinet het ook by die vergadering besluit om 'n beroep op alle Suid-Afrikaners te doen vir hulle voortgesette steun aan oudpresident Nelson Mandela.
Mandela is verlede Vrydag uit die Milpark hospitaal in Johannesburg ontslaan waar hy vir lugweg-infeksie behandel is.
Hy word tans tuis versorg by sy huis in Houghton.
Chabane sê die regering is bemoedig deur die oorweldigende steun van die publiek.
– RSG
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA