Nóg een sterf in Sasolburg
2013-01-23 07:07
Sasolburg – Nóg 'n betoger is doodgeskiet tydens gewelddadige betogings in Zamdela, Sasolburg, het die polisie in die Vrystaat gesê.
Die voorval het by die Zamdela-polisiekantoor plaasgevind, waar gevegte tussen die polisie en betogers uitgebreek het. Betogers het polisiebeamptes met klippe bestook terwyl hulle probeer het om by die polisiekantoor in te storm, het Khela Sithole, polisiewoordvoerder gesê.
"'n Man is tydens die konflik doodgeskiet. Die kwessie is egter 'n saak vir die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod). As die polisie gaan ons nie daaroor kommentaar lewer nie."
Altesaam 238 is op aanklag van openbare geweld en saakbeskadiging in hegtenis geneem sedert die gewelddadige betoging Sondag begin het.
Sithole het die polisie geprys omdat hulle die situasie onder beheer gebring het.
Betogers het Maandag by die Moses Kotane-stadion in Zamdela byeengekom, waar hulle gewag het om Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, te sien.
Baloyi het gesê dit was nie sy bedoeling om die geleentheid by die stadion te kanselleer nie. Hy het verder gesê hy is gewaarsku om nie na die stadion te gaan nie.
Hy het gevra vir kalmte in die gebied en het 'n beroep op betogers gedoen om die geweld te staak sodat leerders kan terugkeer skool toe en ondernemings weer hul deure kan oopmaak.
'n Taakspan van kenners, wat nou saam met die gemeenskap sal werk, is aangestel.
Dinsdag is 'n man na bewering deur 'n motoris doodgeskiet.
Die betogers het na bewering die motoris versper terwyl hy verby gery het, waarna die motoris 'n vuurwapen uitgehaal en 'n skoot na die grond gevuur het. Een van die inwoners is gewond en het later in die hospitaal gesterf.
Die polisie ondersoek die saak.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA