Nóg bedankings ruk VF+
2010-03-07 07:22
Jan-Jan Joubert
Johannesburg - Die VF+ het Saterdag nóg terugslae beleef toe verdere bedankings ingedien is in protes teen die partyleier, dr. Pieter Mulder, se aanvaarding van ’n adjunkministerskap in die ANC-regering.
Saterdag se bedankings van onder andere die party se provinsiale jeugleiers in Gauteng (James Kemp) en die Noord-Kaap (Nikke Strydom) volg kort ná die bedanking van die party se Pretoria-leier, Willie Spies.
Die tien jeugleiers wat Saterdag bedank het, is hoofsaaklik van Gauteng en die Noord-Kaap, twee van slegs drie provinsies waar die VF+ in verlede jaar se verkiesing gegroei het.
Gauteng het die enigste groot groei getoon. Spies se rol in Pretoria was bepalend hierin, maar sy botsings met Mulder se ondersteuners oor die aard van opposisie het hom uit die party gedwing.
Die jeugleiers het die roede nie vir Mulder gespaar nie. Hulle het daarop gewys dat ’n party nie kan floreer sonder konsekwente, betrokke, koersvaste leiers met ’n stewige skoot integriteit nie.
“Daar is tans in die VF+ nie net ’n tekort nie, maar ’n algehele afwesigheid van hierdie kardinale faktore,” lui die bedankingsbrief onder meer.
Die jeugleiers kla ook oor die hantering van verlede jaar se jeugkongres, toe die party se parlementêre leier, Pieter Groenewald, meer as die helfte van die teenwoordiges buite orde gereël het. Teen die verwagting in is ’n jeugleierskorps verkies wat Mulder se koöptering in die regering steun.
“Ons het voor die verkiesing ons dood gewerk, straatwerk tot laatnag, ouetehuis ná ouetehuis,” het Strydom aan Rapport gesê.
“Ons het beloof ons is teen die ANC; toe doen ons leiers die teenoorgestelde. Daarmee kan ek nie saamleef nie; my integriteit laat dit nie toe nie.”
Mulder het in reaksie hierop gesê die jeuglede se bedanking is geen verrassing nie. Al wat vreemd is, is die tydsberekening. Hy het daarop gewys dat hy eenparig as VF+-leier herkies is nadat hy adjunkminister geword het.
Rapport is bewus van vele ander VF+-lede wat die sentiment deel, maar nog nie gereed is om te bedank nie. Nog bedankings word voor volgende jaar se munisipale verkiesing verwag. In nog ’n verwikkeling is die VF+ se leierskorps se aanslag op Spies Saterdag teengespreek deur die leier van Solidariteit se burgerregte-organisasie, Kallie Kriel.
In reaksie op Rapport se vraag oor AfriForum se standpunt rakende Spies se bedanking het Kriel gesê hy het begrip dat Spies in ’n onhoudbare posisie geplaas is deur enkele individue binne die VF+ wat aanhoudend gepoog het om AfriForum aan dié party te probeer koppel. Dit ondanks die feit dat AfriForum vriendelik versoek het om nie by die partypolitiek ingetrek te word nie.
“Willie is een van die eerbaarste mense wat ek ken en ek twyfel nie dat hy hierdie gebeure sal oorkom nie. Sy rol as AfriForum se regsverteenwoordiger is ’n reuse-aanwins,” het Kriel gesê.