Nóg ANCYL-beamptes aangekla
2011-08-24 09:02
Johannesburg – Nóg vier beamptes van die ANC-jeugliga is daarvan aangekla dat hulle die party in oneer bring, is Woensdag berig.
Mail & Guardian Online en die SABC het berig dat Ronald Lamola, adjunkpresident van die ANCYL, Sindiso Magaqa, die jeugliga se sekretaris-generaal, sy adjunk, Kenetswe Mosenogi en Pule Mabe, die jeugliga se tesourier, saam met Julius Malema en Floyd Shivambu aangekla gaan word.
Dié berigte het vier "hooggeplaaste bronne" in die jeugliga aangehaal.
Magdalene Moonsamy, woordvoerder van die ANCYL, het gesê sy is nie in 'n posisie om kommentaar te lewer oor die berigte nie.
"Ek dink dit is 'n proses wat aan die ANC behoort. Laat ons wag vir kommunikasie van die ANC."
Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, het gesê hy probeer die berigte bevestig.
Derek Hanekom, voorsitter van die ANC se tugkomitee, kon nie Woensdagoggend vir kommentaar bereik word nie.
Mail & Guardian Online het berig dat die vier beamptes van die ANCYL kort ná Dinsdag se mediakonferensie van die ANC aangekla is.
Die ANC het verlede week die aksie teen Malema en Shivambu aangekondig.
Malema het vroeër vandeesmaand gesê het hy het planne om ’n “bevelspan” saam te stel om weerstand te organiseer teen die president van Botswana, Ian Khama, se bewind, is vroeër berig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA