Nog 8 kerk-slagoffers in hospitaal
2009-12-14 12:10
Johannesburg - Daar word tans nog agt mense in die hospitaal behandel nadat hulle beseer is toe die trappe van ’n kerk in sentraal-Johannesburg meegegee het.
Nametso Mofokeng, ’n woordvoerder vir die Universal Church of the Kingdom of God, het Maandag gesê agt van dié beseerdes is na privaat hospitale geneem.
Talle mense is beseer nadat die trappe vroegmiddag inmekaargestort het en op die kerkgangers by die kerk in Eloff- en Pleinstraat geval het, het Jeff Wicks van Netcare 911 gesê.
Mofokeng het gesê sowat 72 mense is vir beserings behandel wat wissel van “matige snyplekke tot skok”.
’n Ondersoek om die oorsaak van die voorval vas te stel, sal Maandag begin, het sy bygevoeg.
Die stad se departement van ingenieurswese, die brandweerdepartement en siviele ingenieurs wat verantwoordelik was vir die bouprojek, sal betrokke wees by die ondersoek om die oorsaak vas te stel.
Kerkdienste sal intussen in die administrasiegebou voortgaan.
- Sapa