Nog 5 tolhekke vir Kaap beplan
2010-07-29 07:38
Kaapstad. - Boere hoef hulle nie te bekommer oor die impak wat die beplande tolhekke op die N1 en N2 op landbou gaan hê nie, want daar ís alternatiewe.
Só het Robin Carlisle, provinsiale minister van vervoer en openbare werke, gister by navraag gesê in reaksie op die beplande oprigting van vyf tolhekke op die N1 en N2 in die Wes-Kaap.
Die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) het vandeesweek laat blyk die beplande tolhekke gaan voort, hoewel twee se ligging verskuif is.
Bouwerk sal na verwagting oor twee jaar begin en sowat drie jaar duur. Die tender-aansoeke sluit op 20 September.
Kobus van der Walt, streekbestuurder vir Sanral in die Wes-Kaap, het gesê daar is ná deeglike oorweging besluit om twee tolhekke se ligging uit digbevolkte woongebiede in die metro-gebied te verskuif.
Tolhekke sou aanvanklik opgerig word op die N2 naby Khayelitsha en op die N1 naby Brackenfell, maar sal nou eerder op die N2 naby af- en oprit by Spineweg en op die N1 tussen die Joostenberg-vlakte en die afrit na Stellenbosch opgerig word.
Van der Walt het voorts gesê op die N2 aan die voet van Sir Lowryspas voor die Strand, word ’n tolhek beplan, asook by Botrivier by die afrit na Hermanus op die N2.
“Ons wil met dié skuif die finansiële impak op arm gemeenskappe verminder.
“Die landbousektor kan ook hierby baat omdat hulle toegang tot paaie van ’n beter gehalte gaan hê. Boere sal makliker by markte en vinniger by lughawens kan uitkom.”
Carlisle het dié skuif ook verwelkom, juis omdat hy hom reeds uitgespreek het teen die oprigting van tolhekke naby arm woongebiede soos Khayelitsha.
Hy het erken die impak wat die beplande tolhekke op boere gaan hê, is ’n groot bekommernis, “maar daar is ’n alternatief”.
“Boere gaan toegang hê tot paaie wat deurgaans in stand gehou gaan word, maar daar lê ook ’n oplossing in spoorvervoer.
“Boere moet net harder op die deure begin slaan en hul gewig agter my ingooi om dié diens weer behoorlik op die been te bring.”
Carl Opperman, woordvoerder van Agri-Wes-Kaap, het gesê boere is bekommerd oor die bykomende koste wat die tolpaaie vir landbou gaan inhou.
“Dit gaan ons nie net meer kos om produkte van die plase te vervoer nie, maar ook om produksie-insette van buite na plase te vervoer. Dit gaan ons seermaak.”