Nóg 3 bejaardes vermoor
2010-02-22 06:41
Fanie van Rooyen
Johannesburg - Die vlaag
van moorde op bejaardes het die naweek voortgeduur toe nog drie mense
by hul huise in onderskeidelik Mokopane, Limpopo en Eldoraigne,
Centurion, vermoor is.
Jozua (70) en Esmé Booysen
(54) is Vrydag deur rowers buite hul huis op ’n mynperseel in Mokopane
ingewag en met klippe doodgegooi.
Die tuinwerker van Jerzy
(George) Kanienski (60), ’n ingenieur wat oorspronklik van Pole kom,
het eergisteroggend omstreeks 07:00 op Kanienski se bebloede lyk
afgekom waar dit in ’n gang in sy huis in Eldoraigne gelê het.
Kanienski se hande was met kabelbinders vasgebind en daar was steekwonde aan sy liggaam.
Dit volg nadat ses bejaardes reeds sedert begin vanjaar in Pretoria vermoor is.
Kapt.
Louise Reed, polisiewoordvoerder, het gesê Kanienski is waarskynlik
Vrydag laatmiddag reeds deur ’n onbekende aantal rowers vermoor.
Die rowers het met slegs ’n kamera en twee handwapens van Kanienski gevlug.
“Dis
verskriklik, ek weet nie eers wat om te sê nie,” het ’n bedroefde
Johanna Fidos, ’n niggie van Kanienski en sy enigste familie in die
land, gister gesê.
“Ek verstaan nie hoe jy iemand vir niks kan doodmaak nie. Is ’n kamera en twee pistole werklik iemand se lewe werd?”
Fidos het Donderdag laas met Kanienski gepraat en hulle sou eergister ontmoet het om te kuier.
“Ek
het uitgesien om hom te sien, maar toe bel ’n vriend van hom wat deur
die polisie gekontak is my om my van sy dood in te lig,” het sy gesê.
“Dit is ’n absolute skok.”
Kanienski,
wat by die departement van waterwese gewerk het, woon al meer as 25
jaar in Suid-Afrika. Hy is jare gelede geskei en het geen kinders gehad
nie.
Supt. Ronel Otto, polisiewoordvoerder in Limpopo, het
gister gesê die Booysen-egpaar het Vrydag gaan inkopies doen en is by
hul terugkeer by hul huis deur vermoedelik twee rowers oorval.
“Twee van die egpaar se werkers is vroeër die dag deur die rowers oorval en in die huis vasgebind,” het Otto gesê.
“By hul aankoms by hul huis is die egpaar toe ook deur die rowers oorval en met klippe doodgegooi.”
Die
rowers het volgens haar verskeie vuurwapens uit die Booysen-egpaar se
huis gebuit en in Booysen se Mercedes-Benz van die toneel gevlug.
Die egpaar se werkers kon hulself loswikkel en het hulle na ’n nabygeleë polisiekantoor gehaas om die voorval aan te meld.
Die polisie het kort daarna die Booysen-egpaar se lyke by hul huis gekry.
Booysen se uitgebrande motor is later sowat 20 km van die moordtoneel deur die polisie gekry.
Niemand is nog in verband met dié moorde aangekeer nie.
- Beeld