Nóg 24 betogers vas
2009-09-30 11:45
Johannesburg – Polisie in Standerton het nog 24 mense in hegtenis geneem tydens betogings oor dienslewering in dié dorpie in Mpumalanga, het ‘n woordvoerder Woensdag gesê.
Nóg betogings het Dinsdagnag in die Sakhile-nedersetting in Standerton uitgebreek en inwoners het paaie met brandende motorbande en gemors blokkeer. ‘n Munisipale administrasiegebou is ook afgebrand.
Die half-afgebrande gemeenskapsentrum, wat Maandag tydens betogings al beskadig is, is ook weer aan die brand gesteek.
Dié gemeenskapsentrum, waar die biblioteek en gemeenskapsaal was, is Maandag tydens betogings halfpad afgebrand en die huis van ‘n munisipaleamptenaar is toe ook met petrolbomme aangeval.
"Ons het 24 mense in hegtenis geneem vir openbare geweld asook brandstigting,” het kapt. Leonard Hlathi gesê.
Hulle sall Donderdag in die Standertonse Landdroshof verskyn.
Polisie het Dinsdag reeds 65 mense in hegtenis geneem en aangekla van openbare geweld nadat betogings Sondag uitgebreek het.
- Sapa