'Nimmereindigende stryery' by Oscar se huis
2013-02-20 11:01
Pretoria – Die staat sal 'n getuie se verklaring indien dat daar 'n nimmereindigende stryery was die oggend toe Reeva Steenkamp in die atleet Oscar Pistorius se huis doodgeskiet is, het die Pretoriase landdroshof Woensdag gehoor.
Die beskuldigde se optrede en telefoonoproepe daardie aand is deel van voorafbeplanning," het adv. Gerrie Nel, staatsaanklaer, tydens Pistorius se borgtogaansoek gesê.
Pistorius word daarvan beskuldig dat hy Steenkamp op Valentynsdag vermoor het.
Hy het dié bewering in 'n beëdigde verklaring ontken, maar het nog nie gepleit nie. Die atleet het gesê hy het deur die badkamerdeur geskiet omdat hy gedink het daar was 'n inbreker en nie besef het dit is Steenkamp nie.
In reaksie op die verdediging se aansoek om meer inligting, het Nel 'n verklaring van Hilton Botha, die ondersoekbeampte, ingedien.
Botha het gesê hy het omstreeks 04:15 op die toneel aangekom. Met sy aankoms op die toneel, het Steenkamp reeds gesterf. Sy het 'n slaapbroek aangehad en was met handdoeke toegemaak.
Hy het gesê hy glo Pistorius is 'n vlugrisiko omdat dit 'n ernstige misdaad is waarvan hy beskuldig word. Botha het verder gesê Pistorius het buitelandse bankrekeninge en 'n huis in Italië.
Op die vraag of hy borgtog teenstaan, het Nel gesê: "Ja, want hy is 'n vlugrisiko".
Hy het gesê hy soek nie "nog 'n Dewani-saak nie". Shrien Dewani word van die moord op sy vrou, Anni, beskuldig en sy uitlewering na Suid-Afrika sloer al maande.
Nair het Nel gevra hoe ernstig die misdaad is.
"Dit is 'n baie ernstige misdaad. 'n Weerlose vrou is doodgeskiet," het Nel geantwoord.
– Volg Nuus24 op Twitter