‘Niks was fout met hysbak’
2010-07-20 09:23
Die Burger
Kaapstad - ’n Raaisel omhul nog die presiese omstandighede waarin ’n jong ingenieur van Eversdal uit ’n hysbak na sy dood geval het.
Leigh Roomes (26) het Saterdagaand drie verdiepings ver in die hysbakskag van die Hip Hop Plaza-woonstelgebou in Roelandstraat geval nadat die hysbak gaan staan het. Hy het glo die hysbak se deur met sy hande oopgedwing en tot op die derde verdieping probeer klim, sy balans verloor en in die skag afgeval.
“Die hysbak sal voor die einde van die week weer in werking wees,” het ’n senior werknemer van die Kone-hysbakmaatskappy, wat die hysbak geïnstalleer het, gesê.
“Daar was operasioneel niks fout met die hysbak nie en slegs die gedeelte wat die brandweerman oopgebreek het om by die beseerde te kom, moet reggemaak word.”
Volgens Alan Underwood, uitvoerende hoof van Kone, is die polisie en die departement van arbeid besig met ’n ondersoek.
Verdere inligting sal bekend gemaak word wanneer dit voltooi is.
Kone se rekords wys dat dié hysbak volgens nasionale regulasies in stand gehou is. Dit is laas op 12 Julie vanjaar versien.
“Die ontwerp van ’n hysbak sal bepaal of jy die deur met jou hande kan oopmaak of nie,” het Lynne Wareing, woordvoerder van Vision Elevators, gesê.
Afhangend van die instandhoudingsooreenkoms tussen die hysbakmaatskappy en die kliënt sal ’n diens- of instandhoudingstegnikus uitgestuur word as daar ’n noodgeval is.
’n Woordvoerder van die gebou se raad van trustees wat nie haar naam genoem wil hê nie, het gesê hulle sal eers kommentaar lewer nadat alle ondersoeke voltooi is.
Roomes se ma, Caty, het gesê begrafnisreëlings is nog nie getref nie omdat die oorsaak van sy dood onnatuurlik was en ’n lykskouing gedoen moet word.
- Die Burger