Niks meer geld vir Selebi
2010-10-08 10:03
Johannesburg - Die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi, sal uit sy eie sak moet opdok vir die appèl teen sy korrupsie-vonnis, het The Star Vrydag berig.
"Ná alle relevante faktore oorweeg is, het die staat besluit om nie die regskoste van Selebi se appèlproses te betaal nie," het Tlali Tlali, woordvoerder van die departement van justisie, gesê.
Selebi het bevestig dat die staat sy aansoek om befondsing vir die appèlproses verwerp het.
"Ek sal kyk wat ek kan doen. Ek het nog nie gedink hoe ek vir die appèl gaan betaal nie, maar ek gaan voort."
Selebi is in Julie skuldig bevind op aanklag van korrupsie en 15 jaar tronkstraf opgelê. In Augustus is sy aansoek om verlof tot appèl toegestaan.
Die staat het tydens die verhoor 'n totaal van R17,4 miljoen opgedok vir sy regskoste.
Tlali was nie onmiddellik beskikbaar om die koerantberig te bevestig nie.
Volg Nuus24 op
Twitter
- SAPA