Niks kan gedoen word vir 'hartbaba'
2011-10-31 17:58
Johannesburg – Geen verdere toetse sal uitgevoer word op ‘n babaseuntjie in die Oos-Kaap wat met sy hart buite sy bors gebore is nie, het die provinsiale gesondheidsdepartement Maandag gesê.
“Dokters het uitgevind die hart het geen kamers nie. Geen verdere kliniese toetse sal uitgevoer word nie,” het Sizwe Kupelo, woordvoerder, gesê.
“Die hart is so gebreklik dat sommige van die are onderontwikkel is. Daar is, gebaseer op die kliniese analise, niks wat vir die baba gedoen kan word nie.”
Kupelo wou nie sê wat die diagnose beteken vir die seuntjie se kanse op oorlewing nie.
Die baba is verlede Maandag by sy ma se huis gebore. Die 17-jarige ma is na die Dora Nzinga-hospitaal gehaas.
Hy het Dinsdag ‘n noodoperasie ondergaan.
‘n Stuk vel is om die hart geplaas om dit te beskerm terwyl verdere toetse gedoen is, het hy gesê.
Die toestand kom slegs in een uit ‘n miljoen babas voor.
In ‘n soortgelyke geval is Ashleigh Louw op 9 Januarie 2010 gebore met haar hart buite haar bors, bloot gedek deur ‘n klein lagie vel. Dokters het later daardie maand op haar geopereer.
Sy is op 5 Maart by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg dood.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA