'Niks fout' met SAL-vliegtuig wat gas lek
2011-05-25 07:04
Kaapstad - Die Airbus A340-200 wat Maandag weens ’n gaslekkasie ’n noodsituasie in die lug tussen Kaapstad en Johannesburg veroorsaak het, vlieg weer ná ’n deeglike ondersoek.
Dileseng Koetle, waarnemende hoof van korporatiewe sake van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), het Dinsdag gesê die lugdiens het die vliegtuig ná sy aankoms op die Kaapstadse Internasionale Lughawe volledig ondersoek.
Dit is aan die hand van die riglyne in die vervaardiger se handleiding gedoen. Geen foute kon opgespoor word nie.
“Die vliegtuig is gister tydens sy terugkeer na Johannesburg streng gemonitor en geen probleme is aangemeld nie.”
Koetle het Maandagmiddag erken ’n “onbekende middel” het passasiers op die vlug laat hoes.
Passasiers op SAL vlug 333 van Johannesburg na Kaapstad het Maandagmiddag tydens die bediening van middagete skielik begin hoes.
Die vlieëniers het ’n noodoproep uitgestuur toe hulle daarvan bewus geraak het.
Vliegtuigpersoneel het egter versuim om die passasiers oor die moontlike lekkasie in te lig.
Die passasiers het eers in Kaapstad agtergekom hoe ernstig die situasie was toe mans met gasmaskers die vliegtuig bestyg het.
Hulle het ook eers op die pendelbussies van die vliegtuig na die lughawegebou van die lekkasie gehoor.
Keri Davids, woordvoerder van die stad se metro-ambulansdienste, het Dinsdag bevestig dat drie mense Maandag na ’n hospitaal gebring is.
“Drie mense, ’n passasier en twee lugwaardinne, is na die N1 Stad- private hospitaal gebring nadat hulle op die lughawe deur die stad se nooddienste vir moontlike rookinaseming behandel is.”
Chanel Lotz, bemarkingsbestuurder van die N1 Stad-hospitaal, het gesê die drie is na die ongevalle-eenheid van die hospitaal geneem, waar hulle ondersoek is. Hulle is later die dag ontslaan.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger