Niemand kan sy liga dreig, sê Malema
2010-05-08 07:48
Daniëlla du Plooy
Johannesburg - Niemand het die reg om die ANC-jeugliga met skorsing te dreig nie, het Julius Malema, leier van die organisasie, gister gesê.
Hy het sy toespraak by ’n konferensie van die liga se Young Women’s Assembly by die luukse Ingwenya Lodge in Muldersdrift begin deur onder meer “Viva, president Zuma, viva!” uit te roep. Daarna het hy voortgegaan deur teen sy ANC-tugverhoor uit te vaar.
Die vroue by die konferensie het hom luid toegesing en as “JuJu Baby” aangespreek.
“Net omdat mense nie met ons saamstem nie, kan hulle ons nie sommer net wil skors nie,” het Malema gesê. “Die jeugliga moet seker maak ons word nie ondermyn nie. As daar ’n geveg hieroor is, is ons gereed. Maar ons hoop om dit te vermy. Die jeug is nooit bang nie – ons het dit al in die apartheidsjare gewys.”
Die ANC het verlede week voortgegaan met ’n interne tugverhoor teen Malema, wat volgende week hervat sal word.
Die klagte teen hom hou glo daarmee verband dat hy die ANC en die regering in oneer gebring het.
Malema het gister gesê die party behoort aan geen individu nie.
“Geen leier is ewig nie, hulle kom en gaan. Die beweging is en bly in die hande van die lede.
“Die party het nie altyd met van die groot leiers voor ons saamgestem nie, maar hulle is toegelaat om hul stemme te laat hoor. Daar is nie na hulle verwys as ‘?’n irritasie’ nie.”
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het in April gesê politici moet Malema nie teiken nie, “ten spyte van die irritasie wat ons dalk weens hom ervaar”.
Malema, geklee in ’n Bafana Bafana-sokkerhemp met sy van agterop, het die grootste deel van sy toespraak voorgelees. Hy het gesê die nasionalisering van myne is ’n werklikheid.
“Beloftes dat dit nooit sal gebeur nie, is verniet – dit is reeds op die ANC se agenda en ons sal ons ten sterkste daarvoor beywer.”
Nadat Malema saam geluister het na ’n ginekoloog se toespraak oor die vroulike voortplantingstelsel en seksuele gesondheid, het hy gesê die jeugliga ondersteun ’n veldtog wat jong mense aanmoedig om net een seksmaat te hê.
“Ons moet ook ’n balans tussen ons kulturele regte en respek vir vroue vind. Dit kan nie altyd reg wees dat mans ’n klomp seksmaats mag hê terwyl vroue gestigmatiseer word nie.”
Hy het gesê die jeugliga moet nog vrouelede werf. “Hulle moet die beste van die beste wees: sag op die oog en met goeie maniere.”
- Die Burger