'Niemand het selfmoord sien kom'
2011-09-27 06:56
Bloemfontein - “Niemand het dit sien kom nie.”
Só het die suster van Nicolene Hugo (51) gesê nadat Hugo Sondag op die N1 buite Bloemfontein eers voor ’n vragmotor ingery het en toe sy dít oorleef, voor ’n kleiner vragmotor ingehardloop het. Christa van Zyl van Kimberley het gesê sy het nooit gedink haar suster sal haar eie lewe neem nie.
Ook Maretha Gouws, 15 jaar lank Hugo se vriendin, het gesê sy het so iets nie verwag nie.
“Wat gebeur het, pas glad nie in die prentjie van Nicolene nie. Sy het haar ups en downs soos enige ander mens gehad. Sy was ontsettend lief vir haar kinders en trots op hulle. Sy was ’n inspirasie, ’n steunpilaar.”
Talle mense na aan Hugo was Maandag ook geskok oor hoe sy haar eie lewe geneem het.
Hugo was die vrou van Dawie Hugo, hoof van die Lettie Fouché-skool in Bloemfontein.
Annerie Maeder, ’n vriendin en kollega, het Maandag gesê mnr. Hugo het gevra om niemand te sien nie. “Almal is verslae, hartseer. Hier heers ’n gevoel van verslaentheid.”
Van Zyl het gesê 17 jaar gelede het hulle hul oudste suster, Bettie, en haar 12-jarige dogtertjie, Elené, in ’n motorongeluk verloor.
Die ongeluk het gebeur op pad terug van Nicolene se jongste dogter, Yolandé, se doop.
“Een aand het Nicolene ’n nagmerrie gehad. Sy het gedroom ek kom iets oor. Sy het my gebel en gesmeek ek moet haar asseblief nooit alleen los nie. Ek het gesê ek sal dit nooit doen nie. Al die verskriklike goed strook net nie met wie my suster was nie. Ek het die oggend voor haar dood nog met haar gepraat. Sy was rustig. Sy was net haarself. Sy het gesê sy het lekker geslaap en sy gaan nou opstaan, stort en aantrek. Ek glo in my hart dit was nie aspris nie.”
Van Zyl het gesê haar suster was uiters positief, het slegs per geleentheid gedrink, was nog nooit in ’n hospitaal om vir depressie behandel te word nie en was baie gelukkig. “Depressief was Nicolene vir seker nie. Wat gebeur het, strook net nie met die positiewe mens wie sy was nie. Ons was soos ’n tweeling. Die een het altyd geweet wat in die ander se lewe aangaan. Ons was byna telepaties. My man van 34 jaar, Johan, het al selfs gespot dat ek selfs weet wanneer Nicolene toilet toe gaan.”
Van Zyl hou vol die grusame wyse waarop haar suster haar lewe geneem het, kan nie waar wees nie. “Nicolene sou my nooit alleen los nie.”
Hugo se begrafnis is Donderdag om 14:00 uit die NG kerk Heuwelsig.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad