'Niemand dikteer SA se buitelandse beleid' – Zuma
2011-10-13 17:56
Pretoria – Geen land, aktivistegroep of individu dikteer Suid-Afrika se buitelandse beleid nie, het President Jacob Zuma Donderdag in Pretoria gesê.
Tydens ‘n openbare lesing by die Universiteit van Pretoria het hy gesê: “Ons buitelandse beleid is onafhanklik en besluite word gebaseer op die nasionale belang. Ons word nie deur ander lande, individue of aktivistegroepe in ons eie land dikteer nie.”
Zuma het dié kommentaar gelewer nadat hy beklemtoon het dat Suid-Afrika se erkenning van ‘n een-China-beleid in pas is met internasionale norme.
Zuma se regering is skerp gekritiseer oor die manier waarop die beplande besoek van die Tibettaanse geestelike leier die Dalai Lama hanteer is. Die Dalai Lama het beplan om die land te besoek vir Emeritus-Aartsbiskop Desmond Tutu se 80ste verjaardagvieringe.
Die regering is wyd daarvan beskuldig dat hy ingegee het tot druk van die Chinese regering om nie die besoek toe te laat nie.
Zuma wou nie die Dalai Lama se visumaansoek bespreek nie.
“Die Dalai Lama is ‘n individu wat aansoek gedoen het vir ‘n visum om na Suid-Afrika te kom. Dit sal baie moeilik wees om hier te sit en besonderhede te bespreek van wat by immigrasie gebeur het. Ek sal nie wil raai nie."
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA