Nie oorlog, bloot debat, sê Zuma
2009-12-14 08:50
Sarel van der Walt
Turfloop (Limpopo)-Die spesiale vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee en uitvoerende komitee vanoggend in Johannesburg kan warm word ná die afgelope paar dae se opspraakwekkende SAKP-kongres.
Die spanning in die alliansie wat die afgelope paar dae tydens die kongres by die Universiteit van Limpopo na vore gekom het, behoort heelwat bespreking te ontlok.
Hoewel sowel die ANC as die SAKP ten sterkste ontken die verhouding tussen hulle het versuur, is daar op grondvlak duidelike spanning sigbaar.
Sowat 1 000 afgevaardigdes het mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, luidkeels by die SAKP-kongres uitgejou.
Malema, wat later uit die kongressaal gestorm het, het op sy beurt eergistermiddag by Jane Furse in Sekoekoeniland voor sowat 5 000 ondersteuners kaalvuis onder die SAKP ingeklim.
Pres. Jacob Zuma, ANC-leier, is luidkeels toegejuig toe hy laat dieselfde middag by die SAKP-kongres opgedaag het.
Kort nadat by die kongres aangekondig is Zuma sou binnekort daar wees, het kongresgangers weer ’n hou na Malema ingekry.
Hulle het begin sing: “Die hond Malema het nie respek vir ons nie... hy is besig om ons organisasie te verwoes.”
Zuma, met ’n rooi das, het sy bes probeer om die gemoedere te kalmeer, maar hy het terselfdertyd die sweep geklap. Hy het die SAKP en die ANC-jeugliga gewaarsku om mekaar nie op openbare verhoë en in die media te pak nie, maar eerder in debat.
Hy het die twee sleutelspelers in dié onderonsie tussen die SAKP en die ANC – Malema en mnr. Jeremy Cronin, adjunk-sekretaris-generaal van die SAKP en adjunkminister van vervoer – albei tot orde geroep. Zuma het die kongresgangers gewaarsku: “Moenie die indruk skep daar is oorlog in die alliansie nie. Daar is nie oorlog nie, daar is bloot ’n debat.”
Dr. Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP en minister van hoër onderwys, het gistermiddag ook ontken daar is verdeeldheid tussen die twee partye “of enigiets wat op verdeeldheid dui”.
- Die Burger