’Nie geweet gastehuise is só duur’
2011-11-05 09:28
Kaapstad - Die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, het gister gesê sy en haar kinders het in haar motor geslaap terwyl amptenare vir haar verblyf gesoek het.
Dit het na bewering gebeur toe sy uit ’n luukse gastehuis in Johannesburg gesit is om plek te maak vir gaste tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi verlede jaar, het Joemat-Pettersson op ’n nuuskonferensie by die parlement gesê.
Sy het die konferensie gehou om te verduidelik hoekom sy die afgelope twee jaar bykans R1,6 miljoen aan hotelle bestee het. Sy het gesê die departement van openbare werke “was nie baie haastig” om vir haar ’n amptelike woning in Pretoria te kry nie, en dit is hoekom sy in gastehuise en hotelle – en in haar motor – moes bly.
‘Menslike fout’
Volgens Joemat-Pettersson was haar tasse gepak en in die gastehuis se stoorkamer gebêre toe sy een aand daar aangekom het nadat Wêreldbekertoernooi-gaste hul intrek geneem het. Toe het sy en die kinders die aand in haar motor, ’n Mercedes-Benz, geslaap.
Haar eie departement het daarna vir haar plek gekry in ’n ander gastehuis, en dit is waar die R420 000 vir 28 dae se verblyf bestee is, wat gelei het tot ’n parlementêre vraag.
In dié tyd was haar voet boonop in gips nadat sy dit gebreek het.
“Ek en my lyfwag het in dié gastehuis tuisgegaan. Sy moes my onder meer in en uit die bad help. En asseblief... ek het nie ’n man nie, so die lyfwag moes my help. Ek is ook nie ’n lesbiër nie,” het sy gesê en gelag.
Volgens Joemat-Pettersson het amptenare die verkeerde inligting verstrek in die antwoord wat twee weke gelede aan die parlement verskaf is. “Sekere amptenare het die ministerie verlaat nadat die verkeerde inligting verskaf is.”
Nie al die rekeninge was vir verblyf nie – sy het soms vergaderings in hotelle gehad, maar nie daar oornag nie, het sy gesê.
Hoewel sy die parlementêre antwoord onderteken het, het sy gesê sy besef nou dit was ’n fout. “Ek het dit onderteken nadat ek dit gelees het. Ek het ’n menslike fout begaan waarvoor ek verskoning vra.”
Sy wou wel van haar amptenare weet waarom só ’n “obsene” bedrag geld by ’n gastehuis bestee is.
“Ek sou nooit kon dink dat die departement dié astronomiese bedrag aan die gastehuis betaal het nie, veral nadat ek gevra het om in ’n gastehuis te bly om hoë hotelkoste te vermy.”
Die kwessie word nou intern ondersoek.
Joemat-Pettersson het gesê haar waardigheid is geskend en haar karakter aangetas deur “opportuniste wat goedkoop politieke punte” wou aanteken.
Toe sy in Mei 2009 as minister aangestel is, het sy nie amptelike verblyf in Pretoria gehad nie en het in gastehuise gebly.
Gebreke aan ampswoning
Sy het ondanks talle gebreke aan haar ampswoning in Kaapstad tussen Julie 2009 en September 2010 daar gewoon. ’n “Fratsongeluk” waartydens teëls in die kombuis opgelig het, het haar uit dié huis gedryf. ’n Huis is daarna vir haar in Rondebosch gehuur.
* Dr. Lourie Bosman, DA-LP, het gister in reaksie gesê Joemat-Pettersson se mediakonferensie het hom met “meer vrae as antwoorde” gelaat. “Die minister sê sommige van die rekeninge het vergaderings met rolspelers ingesluit waar verversings bedien is, en moet dus nie as hotelverblyf beskou word nie. Dit mag die geval wees, maar die minister moet dit nog duidelik stel na watter gevalle sy verwys. Net een persoon kan die rekord regstel, en dit is die Openbare Beskermer.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger