'Nie genoeg vir infrastruktuur' – DA
2012-02-22 16:54
Kaapstad – Die geld wat bestem is vir infrastruktuur en groei is nie goed genoeg nie, het die DA Woensdag gesê ná die minister van finansies, Pravin Gordhan, se begrotingstoespraak.
“Ek dink nie ons het dit vandag gekry nie, maar kom ons gee krediet aan die minister omdat hy daarin geslaag het om die begrotingstekort te laat daal,” het Tim Harris, die DA se woordvoerder vir finansies, gesê.
“Die feit dat hy daarin kon slaag om dit te doen, wys ons dat ons meer ruimte het om sterk op te tree oor veral infrastruktuur en groei.
“Ek meen, die groeisyfer wat hy vandag aangekondig het, sal na verwagting teen 2,7% groei en dit is met die wêreldwye ekonomie wat vinniger groei... en Afrika wat selfs vinniger groei... ons wil veel meer oor groei sien. Daardie syfers is nie goed genoeg nie."
Die begroting toon dat minder vanjaar op infrastruktuur spandeer sal word, het hy gesê.
“Verlede jaar het ons geskat om sowat 8,1 persent te spandeer... daardie syfer het nou gedaal tot 7,8%, so ons spandeer eintlik minder op infrastruktuur.”
Harris het gesê Gordhan het verwys na bedrae wat hy ná 2015 wil spandeer, terwyl daar op die oomblik ‘n beduidende agterstand op infrastruktuur is.
“Ons wil sterker syfers sien,” het hy gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA