Nie duidelik of Malema geappelleer het of nie
2011-11-24 20:57
Johannesburg – Dit kon nie onmiddellik bevestig word of die ANC-leierskap teen die skorsing van die leiers van die ANC-jeugliga geappelleer het nie.
‘n Amptenaar van die ANC-jeugliga het vroeër gesê hy is onder die indruk dat sy nasionale leiers teen hul skorsing geappelleer het.
Die sekretaris van die ANC-jeugliga in die Vrystaat, Lebohang Mogoera, is gevra of Julius Malema en die vyf ander lede van die ANC-jeugliga teen hul skorsing geappelleer het.
Hy het geantwoord dat sover hy weet, ‘n aansoek om appèl ingedien is.
Malema, wat ‘n lesing in Bloemfontein gelewer het, het egter nie die kwessie direk aangespreek nie.
“Ons word geskors. Ons gee nie om nie.
“Ons is nie van plan om in verraaiers te ontaard nie. Ons is gereed vir enigiets,” het Malema tydens die lesing gesê.
Die leiers het tot middernag Donderdag om teen die vonnis te appelleer.
Indien hulle dit nié doen nie, bly hulle geskors.
Malema is skuldig bevind op 'n aanklag dat hy verdeeldheid saai in die party nadat hy gesê het die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is van koers af sedert oudpres. Thabo Mbeki nie meer staatshoof is nie.
Hy is ook skuldig bevind op aanklag dat hy die ANC in oneer bring oor sy uitlatings oor Botswana.
Malema is egter onskuldig bevind op aanklag van rassisme oor uitlatings wat hy in Mei op 'n saamtrek gemaak het.
Malema, Floyd Shivambu, woordvoerder van die jeugliga, Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal is ook daarvan aangekla dat hulle ongenooid by 'n vergadering van die ANC opgedaag en dié vergadering ontwrig het.
Hulle is skuldig bevind op dié aanklag en twee jaar geskors. Die skorsing is opgeskort vir 'n tydperk van drie jaar.
volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA