Saamblyverhoudings onder NG Kerk-vergrootglas
2010-05-26 08:24
Pretoria - Party saamblyverhoudings is eintlik niks anders nie as onbevestigde huwelike.
Dit is die siening van dr. James Kirkpatrick, voorsitter van die algemene taakgroep vir leer en aktuele sake van die NG Kerk. Die taakgroep werk aan ’n studiestuk vir aanstaande jaar se algemene sinode waarby die NG Kerk opnuut sy standpunt oor saamblyverhoudings sal bekyk.
Die NG Kerk het in 1970 gevra dat die regering alle saamblyverhoudings buite die huwelik strafbaar moet maak.
Kirkpatrick het by ’n konferensie wat deur die NG Kerk se oostelike sinode aangebied is, gesê alle saamblyverhoudings kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
Hy het vier soorte saamblyverhoudings onderskei.
Die eerste daarvan is eintlik niks anders nie as rondslapery. Die tweede het hy bestempel as geriefsoekers. Hy meen dis veral mans wat soms by vroue intrek vir die gerief van die saak, maar sonder dat hulle enige langtermynplanne het.
Die derde groep is volgens Kirkpatrick mense wat ’n proefkonynbenadering volg. Dit is mense wat skepties is oor die huwelik en dan op ’n proefgrondslag by mekaar intrek voordat hulle tot trou kom.
Die vierde groep het Kirkpatrick bestempel as onbevestigde huwelike. Dis verhoudings wat nooit formeel as huwelike voltrek is nie, maar wat al die wesenlike kenmerke van die huwelik het.
Daar is ’n vaste wedersydse en respekvolle verbintenis van twee mense wat mekaar liefhet. Verder word dit deur hulle as ’n blywende verhouding gesien.
Kirkpatrick het gesê die kerk kan nie op dieselfde manier werk met dié soort verhouding as met iemand wat losbandig leef nie.
Past. Heinz Schrader van die Capital City Church International het egter gesê die kerk moet vra wat bring vir God eer.
As die kerk nie meer kan sê wat sonde is nie, is daar probleme, was sy boodskap.
- Die Burger