Ngcobo nuwe hoofregter
2009-10-01 15:29
Pretoria - Pres. Jacob Zuma het Sandile Ngcobo as die nuwe hoofregter aangewys. Ngcobo vervang regter Pius Langa, wat later vandeesmaand aftree.
In Augustus vanjaar het Zuma groot ophef by opposisie partye veroorsaak toe hy vir regter Sandile Ngcobo as sy keuse vir die pos benoem het. Opposisie partye het gesê sy nominasie van Ngcobo was ongrondwetlik.
Volgens wet moet die president die opposisie partye nader voor hy ‘n hoofregter mag aanstel.
Die DA, Cope, IVP en OD wou Zuma se benoeming van regter Sandile Ngcobo as hoofregter ongedaan maak en het gesê hulle sal eerder vir regter Dikgang Moseneke in dié pos aanstel.
Zuma het ‘n brief aan die partyleiers gestuur in antwoord op kwellinge dat die proses nie grondwetlike voorskrifte gevolg het nie omdat daar glo nie behoorlike konsultasie plaasgevind het nie.
Hy het hulle die versekering gegee dat hy nog geen finale besluit geneem het nie en “natuurlik” alle menings oor Ngcobo as sy voorkeurkeuse in ag sal neem.
Die vier partye het egter onwrikbaar gebly.
– Sapa