New York Times waarsku oor inligtingswet
2011-11-30 11:15
Johannesburg – Die Amerikaans-gebaseerde The New York Times het Dinsdag 'n opiniestuk oor mediavryheid in Suid-Afrika gepubliseer en gewaarsku dat die "gesondheid van demokrasie" bedreig word.
Die opiniestuk wat deur Nic Dawes, redakteur van Mail&Guardian, Judith February, 'n politieke ontleder, en Zackie Achmat, MIV/vigs-aktivis, geskryf is, bespreek die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting.
"Die gesondheid van een van die wêreld se mees gevierde demokrasieë, wat ná gevegte van dekades lank tot stand gekom het, word bedreig," lui die berig wat op www.nytimes.com gepubliseer is.
"Die bedreiging strek verder as joernalistiek. Dit gaan oor landsburgers se reg om te weet."
Die stuk waarsku dat tensy die wetsontwerp aangepas word om 'n openbare-belang-klousule in te sluit, dit "onherstelbare skade aan Suid-Afrika se demokrasie kan aanrig".
Die wetsontwerp is verlede week deur die Nasionale Vergadering aanvaar en is nou voor die Nasionale Raad van Provinsies.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA